Vier Europeërs Vas Oor Dwelms
Vier Europese burgers gaan Vrydag in die Somerset-Wes hof verskyn nadat dwelms wat in koeldrank- en sjampanjebottels versteek was, by hulle gevind is.
Die vier is vermoedelik deel van ’n internasionale sindikaat wat dwelms by partytjies in Suid-Afrika verskaf.
Die dwelms het ’n straatwaarde van meer as R1 miljoen.
Die metropolisie se bende- en dwelm-taakspan het die vier Woensdag by die N2 Engen-vulstasie buite Somerset-Wes in hegtenis geneem.
“Die dwelms is baie slim verpak in koeldrankbottels wat spesiaal ontwerp is. Die metamfetamien word vermoedelik in Amsterdam gebottel en dan dwarsoor die wêreld in geseëlde sjampanjebottels vervoer,” het JP Smith, die Kaapse burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, gesê.
Die verdagtes – drie Duitse mans van onderskeidelik 26, 31 en 51 jaar oud, asook ’n Italiaanse vrou (31) – was vermoedelik op pad na Knysna in ’n motor met ’n woonwa.
Beamptes het hulle afgetrek nadat hulle ’n wenk gekry het dat daar dwelms in die voertuig is.
Die beamptes het beslag gelê op hasjisj, kokaïen en twee wynbottels vol vloeibare metamfetamien wat in die motor gevind is.
“Die beamptes het die motor deursoek en die koeldrankbottel gesien. Die bottel is oopgemaak en die dwelms het toe uitgeval. Die motor is verder ondersoek en nog dwelms is in die sjampanjebottels gevind,” het hy gesê.
Dié dwelms het ’n geraamde straatwaarde van R500 000.
Inligting van een van die verdagtes het die polisie na ’n woonstel in Muizenberg gelei waar nog dwelms gevind is, onder meer vloeibare metamfetamien, kokaïen en hasjisj ter waarde van bykans R750 000.
Sommige van die dwelms was in koeldrankbottels.
“Ons onlangse sukses is danksy die bende- en dwelm-taakspan en ons belegging in tegnologie en opleiding,” het Smith gesê.
Die verdagtes se regsverteenwoordiger, Neil Slabber, het aan Die Burger gesê hulle gaan ’n aansoek om borgtog indien.
■ ’n Man (37) is Donderdag by ’n padblokkade op die N1 by Beaufort-Wes in hegtenis geneem nadat dwelms met ’n straatwaarde van meer as R1,2 miljoen in sy minibus-taxi gevind is.
“Die bussie het van Johannesburg gekom en in die rigting van Kaapstad gery. Ons het die dwelms in die verdagte se rugsak gevind,” het kapt. Bernadine Steyn, ’n polisiewoordvoerder, gesê.
Die man verskyn Vrydag in die landdroshof in Beaufort-Wes.