EUROPESE ‘MERTS’ KRY ALMAL BORGTOG
DIE vier Europeërs wat Woensdag op die N2 naby Macassar weens besit van dwelms gearresteer is, is almal op bail van R10 000 vrygelaat.
Thomas Wiesner (51), Stefania Moralli (31), Bastian Gummerlich (31) en Lukas Hoppe (26) het almal Vrydag in die hof in Somerset-Wes verskyn op aanklagte van besit van drugs.
Hulle is Woensdag op die N2-hoofweg by die Engen-vulstasie naby Somerset-Wes gearresteer.
Son het vroeër berig die Amerikaanse FBI en Interpol was ook op die vier se spoor.
Hulle het luidens inligting in Europa en ander lande getoer en is in Amerika deur die DEA (Drug Enforcement Administration) en die FBI ondersoek.
Toe hulle afgetrek is, is die voertuig deursoek en daar is hashish, kokaïen en vloeibare MDMA in hul besit gevind.
Nog inligting is opgevolg en by ’n huis in Muizenberg is nog drugs met ’n straatwaarde van R750 000 gekry.
Die vier is vrygelaat en sal in ’n huis in Muizenberg bly. Hulle moet twee keer per week by ’n polisiestasie aanmeld.
Die saak is tot 19 Februarie uitgestel vir ondersoek.