Borgtog Van R1 000 Elk Ná Raaiselagtige Moord In Houtbaai

’n Paartjie is Maandag op borgtog vrygelaat nadat hulle oor die naweek in hegtenis geneem is in verband met die grusame moord op ’n jong ma in ’n woonstelkompleks in Houtbaai, Kaapstad.

Juandre Dimitri Petsas (27) en Letanja Fourie (24) moes elk borgtog van R1 000 betaal en moet weer op 24 Maart in die Wynberg-landdroshof verskyn.

Die polisie het op Nelscha Leonard (30) se lyk in ’n woonstel by die Princess Beach-kompleks afgekom.

Na wat verneem word, was Leonard se sesjarige dogtertjie op die aand van die beweerde moord ook in die woonstel.

Leonard is minstens 21 keer met ’n skerp voorwerp gesteek.

’n Bron het aan Netwerk24 gesê die moordtoneel kan as ’n bloedbad beskryf word.

Petsas en Leonard het glo die aand van die voorval saam wyn gedrink. Die beskuldigdes en die oorledene het mekaar almal geken, het die bron gesê.

Niks het met Netwerk24 se besoek aan die kompleks verklap wat enkele dae gelede daar gebeur het nie.

’n Veiligheidswag het gesê hy mag niks sê nie, maar het erken dat baie nuuskierige lede van publiek probeer uitvind wat daar gebeur het.